Wasmiddels word veral vir die skoonmaak van tekstielstowwe, veral klere, gebruik. Aangesien die meeste vuiligheid nie wateroplosbaar is nie, bevat die wasmiddels oppervlakaktiewe stowwe wat die vuil deeltjies omhul, sodat dit saam met die wasmiddel met water uitgespoel word. Naas die aktiewe stowwe in ʼn wasmiddel bevat dit ook hulpstowwe soos bleikmiddels, skuimstabiliseerders en stowwe wat die statiese elektrisiteit uit die tekstiel verwyder.
Terwyl byvoorbeeld stof uit materiaal verwyder kan word deur dit te klop, te blaas of uit te spoel, kan vetterige vuiligheid slegs met behulp van wasmiddels verwyder word. Vetterige en olierige verbindings (koolstofverbindings met hoë molekuulmassas) heg gewoonlik stewig aan materiale, en funksioneer boonop as 'n kleefmiddel vir stof, ensovoorts.
Aangesien vetterige stowwe nie wateroplosbaar is nie, kan dit opgelos word met oplosmiddels soos asetoon en benseen. Hierdie middels is egter duur, gee benewelende dampe af en kan 'n brandgevaar skep. In plaas van die oplosmiddels kan seep gebruik word wat veiliger en ook goedkoper is. Seep bevat vetsuursoute (natrium- en kaliumsoute) en vetagtige Koolstofverbindings, en het 'n dubbele werking. Enersyds los die soute maklik in water op en andersyds heg die koolstofverbindings maklik aan vuiligheid. Die vetsuursoute kleef dus aan die vuil deeltjies (omhul dit) en wanneer die soute oplos, word die vuiligheid in die water gesuspendeer.
Seep vorm dus nie 'n oplossing nie, maar eerder 'n emulsie in die water. Seep het egter ook 'n aantal nadele. In sogenaamde "harde water" vorm dit onoplosbare kalsium- en magnesiumsoute wat neig om op materiaal neer te slaan, en dit eerder vuil te smeer as skoon te maak. Uit seep is gevolglik wasmiddels ontwikkel wat ook in harde water gebruik kan word. Dit bevat sogenaamde oppervlakaktiewe stowwe (lipofiele of vetabsorberende stowwe, en hidrofiele of wateroplosbare stowwe) wat die nodige dubbele werking in sagte en harde water het.
Wasmiddels bevat ongeveer 20% oppervlakaktiewe stowwe. Die hoofbestanddeel is polifosfate (tot 50%), wat byvoorbeeld kalsium-, magnesium- en ysterverbindings afbreek sodat dit ook vir die oppervlakaktiewe stowwe toeganklik raak. Polifosfate verwyder ook ione uit sowel die tekstiel as die vuil deeltjies, waardeur die vuiligheid ʼn afstootkrag van die tekstiel ondervind.
Wasmiddels bevat ook bleikmiddels wat by 'n temperatuur van ongeveer 60 °C 'n sterk oksiderende uitwerking het. Daardeur word vlekke (vrugte- en groentesappe, ink, wyn, ensovoorts) aangetas en in kleurlose, oplosbare verbindings omgesit. Die middels word veral in kouewaterwasmiddels gebruik.